PRISMAS EN PADDADERMS
Nou goed dan. Ek moet weer leer blog. Wat skryf ‘n mens nou weer?
Eers moet ek seker bepaal wat dit is wat ek nou eintlik dink sodat ek dit in woorde kan omskakel. So wat dink ek? Goeie vraag. Om by die antwoord uit te kom, moet ek eers seker ‘n ander vraag uit die weg ruim – is dit belangrik vir my om nou te dink?
Soos daar seker uit my afwesigheid en sporadiese wroegings afgelei kon word, bevind ek myself tans in ‘n taamlike turbulente tyd. In my kerskous het ek toe wel die pakkie perspektief gekry waarvoor ek gewens het. (‘n Mens moet pasop waarvoor jy vra, die gevaar bestaan altyd dat jy dit wel gaan kry.)
Toe ek my hand uit die rooi en wit kous trek, was daar ‘n prisma in my palm. Ek het dit teen die lig opgehou en probeer vasstel vanuit watter rigting ‘n straal wit lig in die helderste reEnboog verdeel kan word. Ek het besef die rigting is suid.
Die implikasies hiervan is verrykend. Dit beteken so baie dinge. ‘n Vervaldatum het uiteindelik aanbreek wat nie noodwendig so duidelik op die verpakking aangebring is nie. En hierdie is nie sake waarvoor die eerste impuls netjies verpakte, logies gestruktureerde gedagtes en redenasies is nie. Nee, dis rou, onbeheerste, ongrasieuse emosie wat in alle rigtings uitpeul soos die derms van ‘n gierige brulpadda wat platgery is nadat hy in ‘n motor se kopligte gaan insekte vang het.
So, die vraag bly staan: Is dit belangrik vir my om nou te dink? Moet ek my skalpel en vergrootglas nader bring en die padda se binnegoed verder dissekteer? Of staan ek dan net die gevaar om self ook omgery te word.
Wel, dit wat ek nou hier tik, is seker ‘n bewys dat ek alreeds begin dissekteer en analiseer het. Ek kan dit seker nie help nie. Tussen al die ghwel en slym en gebreekte beentjies sal ek aanhou soek. Totdat ek in die diepste ingewande van hierdie gemors die blink, kantige prisma vind wat die gulsige padda eens vir ‘n vuurvlieg aangesien het. Ek sal dit dan ophou na die lig en my weer verwonder oor die fantastiese kleure wat ‘n koplig daardeur kan kaats. Net voordat dit my tref…
(Wat is beter – hierdie groot lettertipe
of die gewone kleintjietjietjietjie?)




Of mens nou wil probeer dink jy gaan nie dink nie, jy dink! Baie sterkte daarmee. (Die groter lettertipe lees baie makliker.)
die Prismatjie lyk soos ‘n ongeslypte Diamant.
die Berge en plate Wingerd is daai waarin Stellenbosch so onlosmaaklk vasgegroei het.
die Woorde uit al die geDink maak sin, al lyk en voel dit Regtig nie altyd so nie
…dit sal oraait wees !
Simon(sberg) says: wees rustig. Sterkte met wat jy deurgaan. Drie weke en die wêreld lyk anders. Geduld. Groter lettertipe.
die groter lettertipe lees makliker mits dit vergelyk word met die kleiner een. anders (myns insiens) lyk dit te groot.
ek’s spyt johannes se sms het laat gedeliver nou die dag, anders was ek saam met julle in die botaniese tuine
Sterkte daar ver.
Soms moet mens die dinke met jou hart dink en nie met jou kop nie, idiwidi.
Mooi geskryf! Sterkte met die derms uitryg!
welkom terug
ek hou van die kleintjie
Jy skryf mooi. Die aanvaarding is soms moeiliker as die dink…
Hoekom ek nog hier is:
Jy is GeTag!
http://wagnbietjie.wordpress.com/2008/02/05/ek-hou-nie-van
Is die prisma duur?
Jy sal die regte besluit neem. Ek voel dit so aan my prisma.
Die lettertipe van die post is fine, sterkte met nie dink nie. As jy dit regkry, drop my ‘n mail en vertel my hoe.
ek dink… daarom voel ek. saam met jou.
Hi daar, oulike gedig.
Jong jy is ge-storieboek-tag, sien my blog