DIE ERFENIS VAN VERLIES
Nou goed. Een twee drie blok myself - ek is blykbaar nou aan. Dis soos ek die tag-speletjie sien: Jy bad nog so lekker in jou eie vlakwater-gedagtes en roer dit so nou en dan om in ‘n bloginskrywing, en dan voel jy skielik ‘n glibberigheid teen jou been verbyglip. Iets anders wil ook leef in hierdie poel, besef jy. Eers gril jy, en dan raak jy nuuskierig. ‘n Bietjie kielie is seker nie sleg nie, maar te veel glibberigheid is ook nie juis gemaklik nie.
Nou ja, hier gaan ons. Wag-’n-bietjie het my getag om te sê wat als in my poel piepie, maar sy moet eers gou ‘n-bietjie-wag. Riviersonderend en Sterfling het my getag om na bladsy 123 van die naaste boek aan my te blaai en dan die sesde, sewende en agtste sinne op daardie bladsy hier aan te haal.
Ek het gehoop dit sou ‘n inspirerende drie sinne wees, veral omdat dit ook drie lukrake ragfyn aanmekaargeweefde sinne uit hierdie boek was wat my oortuig het om dit aan te skaf. Bladsy 123 is nou ongelukkig nie heeltemal so ophitsig nie. Ek het toe oorweeg om te kroek en ‘n ander boek te gryp. Maar omdat meeste van my boeke reeds in bokse toegeplak is vir die groot trek, is my opsies redelik beperk. Bladsy 123 van my dagboek het gelukkig nog geen afsprake nie, en my paspoort het net sestien bladsye (ek het getel). So, hier is dit dan. Uit Kiran Desai se Man Booker Prize-boek, The Inheritance of Loss:
“While Saeed was collecting shoes, Biju had been cultivating self-pity. Looking at the dead insect in the sack of basmati that had come alle the way from Dehra Dun, he almost wept in sorrow and marvel at its journey, which was tenderness for his own journey. In India almost nobody would be able to afford this rice, and you had to travel around the world to be able to eat such things where they were cheap enough that you could gobble them down without being rich; and when you got home to the place where they grew, you couldn’t afford them anymore.”
Haai, toe eintlik drie baie suksesvolle sinne met tweede oorsig. ‘n Gesonde porsie hartseer ironie daarin vervat. Hoop julle’t dit ook geniet.
Ek tag vir jou en jou en… jou. (Besluit maar self of jy nou net ‘n glibberige poelgedoente aan jou virtuele been voel vat het.)
So, dink julle ek is mal om my boeke 12500km ver te karwei, of dink julle ook boeke is soos oumense - miskien ‘n pyn om op reis te vat, maar sulke wonderlike rusbankvriende as jy eers daar is?




Niemand wat sy boeke met hom saam trek is mal nie. Dis dié wat hulle boeke agterlos, wat ‘n skroef iewers los het. Ek sal my klere agterlos, ak sal my meubels en motor agterlos, maar as ek trek en ek MOET kies, gaan my boeke saam. It is not even negotiable!
Stem saam met Sonkind, en obviously met jou. Die boeke MOET saamgaan! En hey, lekker Valentine’s Day vir jou idiwidi!
ek het een keer gelees van iemand wat dood is van ‘n siekte wat hy van die stof van boeke gekry het. ‘n goeie manier om te gaan, dink ek.
Boeke moet oral gaan - dis nie dieselfde om ‘n vervangende boek te koop nie. My boeke het saamgekom Swede toe en hulle gaan almal weer terug SA toe.
Soos jy sê, hierdie drie sinne het ‘n hartseer ironie. Ek dink mens kan enige bladsy in hierdie skitterende boek oopmaak en ‘n paar sinne daaruit aanhaal en dit sal aangrypend wees.
Dankie Jy! Klink na my soort boek.
Ja, ek stem saam oor die boek-saamvat-storie. ‘n Boek is vir my soos ‘n kort vakansie.
Wanneer vertrek jy?
Ek wonder darem eerlikwaar of ek by die nuuskierige en ondersoekende fases verby sal gaan nadat daar iets glibberig by my been verbygeglip het in die badwater . . . Waar bad jy, Idiwidi?
Is ek nou bloot ‘n glibberige ding in die drinkwater of vermoed ek dat die behoefte om bladsy so en so van boek so en so oop te slaan en betekenis daarin te vind (soos in rigtingwysers, soos in sjoe, soos in wow) net nog ‘n vergestalting is van die algemeen beskaafde afrikaanse gewoonte om iets anders te kry wat bevestiging gee aan mens se huidige doen en late? Die sterre voorspel, die dominee het gese ens. Ja ja, ek’s heeltemla te ernstig en sal iewers ‘n lewe kry. Maar al hierdie kort nice antwoordtjies freak my uit. Die boek wat aanhaal klink great, sal dit lees.
niemand het my ge”tag” nie , maar ek slaan toe ook die naaste boek oop op p.123 en in ‘die windvanger - b. breytenbach’
lees ek toe die enigste inskrywing op daardie bladsy :
8
die windvangerlied
(stories wat mens nooit weer sal hoor nie)
en dit klink toe so finaal.
of dalk, liewerste, soos ‘n nuwe/skoon begin …?
ou mense verdien liefde. boeke ook.
waar ek gaan, gaan my boeke. ek is heeltemal ontsenu sonder hul.
Japan is die beste!
Hou van jou blog en gedigte. Jy skryf mooi.
Hallo! Idiwidi is stil!
Wa jy vrou?! Ons raak bekommerd.
As ek my stem by die ander mag voeg, al is ek die laaste een om te praat… ek mis jou geskrifte!