PIEP!
Piep! Piiieep! Piiiieeeep!
Uiteindelik weer ‘n geluid van diewitdraak. Sy was stil die afgelope tyd, daarom dan ook idiwidi se stilswye. Ek is immers maar net ‘n spreekbuis vir haar onbeholpenheid. En onbeholpenheid is maar net nog ‘n onbeholpe woord om te beskryf hoe beskimmeld en bedremmeld diewitdraak deesdae teenoor haarself staan.
Hoekom dan? Ai, dis soos om te vra hoekom ‘n verhouding moes eindig - daar is soveel regte antwoorde wat nie een die waarheid heeltemal kan beetkry nie. Miskien is die mees akkurate verduideliking van diewitdraak se stomheid dat sy die afgelope tyd oopbek in verwondering gestaan het teenoor die wendings en draaie wat sonder voorbode of verduideliking skynbaar oornag in ‘n mens se kop en hart kan plaasvind.
Vatplek aan talle idees en sekerhede het begin glibberig raak. En die grootste ontgogeling gebeur wanneer daar in plaas van ‘n paniekerige vakuum eerder ‘n gevoel van kalm vervulling ontstaan in die afwesigheid van hierdie sekerhede.
Vir sommige dinge is daar nie (ant)woorde nie. Al wat ‘n mens kan doen, is kyk en voel en ruik en proe en hoor hoe intens ‘n enkele oomblik kan wees. In stilte bewus wees - ervaar en laat vaar. Oorgee. Ontvang.
Diewitdraak moes talle kere in die afgelope maande haar eie kop afkap. Elke keer groei daar ‘n nuwe een uit wat op die oog af lyk net soos die vorige een. Maar, as sy haar mond sou oopmaak, sou jy sien dat dit ‘n hele nuwe stel tande is wat in haar bek glinster. Sy byt deesdae anders op haar kos.
Letterlik en figuurlik. Diewitdraak het gister ‘n verstandtand laat trek. Jammer, ek weet hierdie foto’s is ‘n bietjie grillerig.
NS - Wag-’n-bietjie, ek weet ek het (baie lank gelede) nog ‘n lysie van tien dinge wat my afpieeep vir jou belowe. Ek kan myself net nie sover kry om so ‘n lysie te maak nie. As die swartgalligheid my eendag weer beetkry, sal ek my blogbraak aan jou opdra.




Ouch, in alle opsigte. Maar bly jy’s darem weer terug op die blog, sterkte daarmee, ons sal lees.
Eina tog, niks lekker. Maar lekker om jou weer terug te sien. En, my naam is nie verniet wag-’n-bietjie nie. As daar gewag moet word, dan is dit wat sal gebeur… Hehehe
Ouch, ouch, ouch… voel my kake skoon seer net met die gedagte!
Wil nou nie myself in die skande steek nie, maar daar is een operasie in die lewe wat ek gehad het wat my laat huil het, so groot en lelik as wat ek is. Dit was daardie een wat jy gehad het.
Ek het vir weke soos ‘n butternut gelyk! Sterkte, en moenie die Betadine oral wash te ver bêre vir die volgende 2 maande nie!
Einaaaaaaa… Dis nou presies hoekom ek nie van daai meganiese tandarts stoele hou nie. Laat my dink aan deathrow. Sterkte en gelukkig het jy nie tande nodig om te blog nie!
As ek nou nuuskierig mag wees, Idiwidi, wat maak diewitdraak met al die afgekapte koppe?
hahahaha sonkind! op die oomblik is hulle nog ge-shrinkwrap in haar vrieskas. enige voorstelle?
mooi gestel. jy het ‘n gawe
oog (aandag of verwond-
ering?) sien binnekort ook
die afwesigheid van vrees
aaah Oubaas! en is die afwesigheid van vrees nie ons hoogste doelwit nie… (Krishnamurti sou egter die borrel bars en vertel dat die afwesigheid van vrees ‘n klug is)
nee (en ja). elke vrees het sy ooreenstemmende genesende aksie. sonder vrees is geen aksie nodig nie - ‘n vreeslike toestand.
Die tand lyk lewendig. verbeel myself die binnekant was buite, soos ‘n omgekeerde boom. nagmerries word hiervan gemaak.
oubaas, ek is nog nie oortuig nie. vrees veroorsaak dalk reaksie, maar ek is nie so seker van positiewe aksie nie. (bygesE moet ons miskien eers seker maak dat ons definisies van vrees ooreenstem)
Al wat ‘n mens kan doen, is kyk en voel en ruik en proe en hoor hoe intens ‘n enkele oomblik kan wees. In stilte bewus wees - ervaar en laat vaar. Oorgee. Ontvang.
Is daar enigeen in hierdie kuberruim wat dit beter verstaan as ek en jy?
‘n Retoriese vraag verseker.
‘n Onvergeetlike oomblik is oppad - daar waar vlerke gaan lê en weer die blou hemel betree. Daar sal ek vir jou wag.
cool foto’s