header image
 

ARENDSKUIKEN

 

Kersfees

 IMG_1264

My ma se huis is vol blinkgoed, snoepgoed en kinders wat lankal nie meer kinders is nie. Soos volgeveerde arendskuikens wat hulleself weer onder ma se vlerk en pa se wakende oog sitmaak, is ons al vier weer tuis - snawels wyd en kele oop vir gemaklike fyngeskeurde stukkies ouersorg. 

My pa se boekrak word omgekrap en ma se krale-laai omgedolwe. Ons baklei weer soos ‘n dekade of twee gelede oor die TV remote. Daar is blikke vol koekies en kaste vol van ons gunsteling kosse - spesiaal vir die vier verlore kinders wat hulle pad weer teruggevind na die nes. Beloftes om vergete bokse studenteboeke en ou huisdans rokke uit te sorteer word op die eerste dag al gemaak. Hierdie jaar moet julle vat wat julle nog wil hE anders gooi ek alles uit, hoor ons drie keer.

Vir die eerste keer vandat my voete net meer as drie weke gelede weer grondgevat het in Suid-Afrika, het ek kans om te dink aan wat my getref het. Ons land is hard op my gestel. Elke dag word ek geslaan met soveel indrukke en nog ‘n groter variasie emosies. Ek raak verbouereerd as ek dink ek moet dit alles probeer neerpen. Ek voel soos ‘n duif wat na ‘n huis toe aanvlieg en koer oor die wonderlike bekende beeld wat voor hom weerkaats word, en dan topspoed kop eerste in die venster vasvlieg.

IMG_1265

Suid-Afrika is ‘n fantastiese plek. My tyd hier is ongelooflik. Maar hoeveel van my ervaring is nie maar ‘n weerkaatsing van wat ek graag wil sien nie? Net nadat ek in die Kaap geland het, het ek geskryf dat ‘n mens onmoontlik met ‘n suur gesig in Stellenbosch kan rondloop. Skaars twee weke later het ‘n beklemmende melankolie oor my toegesak, ten skaam aanskoue van die majestueuse lakmoes gebergtes. Die aanvanklike euforie het begin verlep. Die werklikheid buite my kop is stekelrig.

En tog ploeg my wese onwillekeurig in hierdie aarde in. My wortels stoot sonder die toestemming van bas of blare weer terug in die Afrika grond. Ek sal ‘n terugdraaiplan moet begin bedink. Dis nou amptelik onafwendbaar.

Vir die eerste keer in sewe jaar sal my plek aan my ma se Kerstafel nie leeg wees nie. Onder die Kersboom van strikkies, draad en krale, wag ‘n klomp presente waarvan sommige my naam op het. Al waarvoor ek eintlik hierdie jaar wens, is ‘n plan en ‘n pakkie perspektief. Sodat ek voorbereid is wanneer ek weer stertvere skud en oor die rand van hierdie nes moet tuimel. Want ‘n paar losgeplukte boomwortels sal sonder twyfel soos ‘n vlieErstert aan my enkels wapper.

 

ONTHOU!

 

Ek is nog hier!

Belowe!

Gaan julle minds binnekort blow met alles waaraan julle alreeds te gewoond is.

IMG_0393

Dis goed om te lewe.

LEKKERRRRR!

 

As jy in Stellenbosch kan bly en nog steeds met ‘n suur gesig rondloop, sal jy in jou volgende lewe as ‘n rot in ‘n stink ondergrondse rioolpyp terugkom. As jy gelukkig is.

IMG_0293  IMG_0316

IMG_0320  IMG_0322  IMG_0326

Ag hemel, dis ‘n mooi land hierdie. Moet dit nie vergeet nie. En dit ruik so lekker. En die water uit die kraan proe so lekker. En die mense is so funky. En die winkels het so baie lekkergoed!

IMG_0357

Hulle is reg, Suid-Afrika is ‘n gevaarlike plek. Dis net wat ek oppad van die lughawe af verorber het.

(Die foto’s is ‘n bietjie blah, ek weet. Dit laat nie reg geskied nie. Sodra ek my vliegroes afgeslaap het, sal ek probeer verbeter.)

DRIE SLAPIES

 

IMG_0208

Oor drie slapies is ek oppad Suid-Afrika toe!

Om te vlieg is ‘n voorreg. Ek onthou hoe ek as student vakansies terug huis toe moes ry met die bus. Twintig ure lank opgeprop in ‘n piepklein spasie met jou bonsai boompie op jou skoot langs iemand wat ruik soos kool en Kentucky raak nooit lekker nie, al doen jy dit hoe gereeld. ‘n Paar jaar later sou ek met bitter jaloesie verneem hoe my boeties en sussie sommer binne ‘n uur en ‘n half op ‘n binnelandse vlug by die huis kan wees.

Maar wat, deesdae kry ek my fair share van vlieg. En ek probeer dit elke keer waardeer vir die duur voorreg wat dit is (dit weeg swaar op jou beursie en op die natuur). My paspoort en ‘n vliegtuigkaartjie is die mees konkrete vorm van vryheid wat daar vir my bestaan. Ek kan my nie ‘n lewe indink waarin ek nie kan beweeg nie.

En tog. Lang internasionale vlugte op volgepropte vliegtuie wat binne dertig uur tussen drie kontinente hop, is ook nie altyd ‘n plesier nie. Wanneer dit donker raak buite die venstertjies en die parfuumgeure van die duty free shops begin verdamp, is die sitplek eintlik maar dieselfde as in ‘n bus.

Behalwe natuurlik as jy besigheidsklas vlieg! O, hoe wens ek nie altyd dat die vriendelike dame aan die anderkant van die toonbank verskonend sal noem dat daar ongelukkig geen meer sitplek in ekonomiese klas is nie, “and would you mind if we upgrade you to business class?”. Well, certainly my dear.

Het julle enige nuttige tips of truuks om ‘n sitplek in besigheidsklas te kry?

 

HEILIGE MELKKOEI!

 

Ek wonder maar net…

054b

Sou hierdie winkeltjie se wegneem melktee lekkerder wees as by ander winkeltjies omdat dit so ‘n agbare naam het, of is die deugsame benaming juis as gevolg van die verhewe kwaliteit van die produk wat daar hande verwissel?

ONPRODUKTIEF

 

DSC02022

Skryf. Skryf iets. Skryf sommer. Omdat.

Bring jou kop terug. Van daardie plek oor die see.

Van die plat berg. En ook van die groenes.

En plooie so vriendelik en bekend.

Terug tot hier. Waar dinge nog wag.

Belangrike sake. As enigiets ooit gewig kan dra.

Meer as ‘n berg en ‘n plooi in elk geval.

Skryf. Skryf neer. Anker jou met woorde.

Want om te vlieg voordat jy opstyg is

on-pro-duk-tief.

VYF, SES, SABBAT

 

My indrukke van die afgelope naweek, met spesifieke klem op die meer aksie-belaaide Sondag.

sunday1

- Moenie op Hollywood vertrou as jy jou politieke visie wil verbreed nie. Hoewel dit seker verblydend is dat dit uiteindelik in die hoofstroom gepomp word, is die idees wat in die fliek Lions for Lambs uitgedruk word, maar bra flou en ver van vars.

- Lietsjiebier is sleg.

sunday2

- Ek het nie ‘n liniaal nodig as ek nuwe rakke in die meubelwinkel meet nie - die afstand tussen die punt van my duim en middelvinger as ek my hand ooprek, is presies 20cm. Dit is egter my gebrekkige geheue van wat ek skaars 20 minute gelede gemeet het, wat veroorsaak dat ek lelike woorde binnensmonds prewel voordat ek weer moet terugry om die goed te gaan omruil.

- Die geheim van Tai’qi is om te beweeg asof jy jou hand in ‘n poel water steek om ‘n vissie te vang sonder dat die vissie weet wat jy doen.

- Dis soms die moeite werd om vroeg uit die bed gesleep te word op ‘n Sondagoggend vir die opening van ‘n nuwe kliniek. Jy loop miskien net ‘n klomp bloedjong, aantreklike Kungfu outjies raak wat met groot vertoon ‘n swaard of ‘n tou met ‘n lem voor jou neus rondswaai. Miskien kry jy nog middagete op die huis ook.

sunday3

- Die beste ding van ‘n eksklusiewe openingspartytjie van ‘n kunsuitstalling in Taiwan, is nie die kuns nie. Dis die feit dat daar altyd oorgenoeg rooiwyn vir jou eie geselskap is, omdat niemand anders drink nie. Die tweede beste ding is om in die hoek saam met jou vriendin te staan en Gucci handsakke, Issey Miyake outfits en diamantringe tel terwyl jy agter ‘n bordjie tertjies bitch oor hoe geld nie noodwendig smaak kan koop nie.

- Om te help met die skottelgoed nadat jy by iemand aandete geniet het, hou direk verband met hoe gereeld jy genooi sal word.

- Koeksoda en asyn is blykbaar goed vir verstopte dreine. Koeksoda help ook vir verstopte ingewande.

- As die wekker Maandagoggend lui, is jy verkeerd as jy dink dat jy miskien vergeet het om dit die vorige aand te deaktiveer en dat dit nou maar eers Sondag is. 

 

So shoot an apple from my head

 

Hier is die rede vir my afwesigheid die afgelope ruk.

DSC08682

Dit neem nogal ‘n tydjie om al jou CD’s in ‘n klein swart nano-boksie te prop. My huis lyk op die oomblik asof die Kompakskyfmonster maagwerkings gehad het - orals is daar klein hopies ronde tjortse, soos ek besluit hoe om die musiek te organiseer.

Dis moeilik om te laat gaan, so het ek uitgevind. Eliminasie is ‘n pynlike proses. Wie weet, dalk het iemand eendag agtergrondmusiek vir ‘n Gregoriaanse musiekblyspel nodig. Miskien ry ek iewers saam met my ma in die motor, dan kan ons weer saam Yellow submarine sing. Sal ek nie maar hierdie een hou net vir ingeval iemand eendag weer ‘n Totally Awesome Club Tropicana 80s party (soos verlede naweek) gooi nie? Die lirieke is tog so ‘n onuitputbare bron van inspirasie: “All that’s missing is the sea. But don’t worry, you can sun tan…”

IMG_7960b

Gelukkig trek ek die streep by kindermusiek. My skooljuffroudae is lankal verby en my biologiese klok is vir eers op snooze. Eentsy Weentsy Spider kan maar weer gemaklik raak daar in die waterpyp en Humpty Dumpty kan gerus soveel tantrums van die muur af gooi as wat hy wil. Daar is ook nie plek vir Dumbo en Ten Little Indians in my sliek, plat, funky klein boksie nie.

DSC08683

DSC08684

Is sy nie pragtig nie! 

WIE’S JOU POPLAP!

 

Selfs nadat ek alreeds ‘n paar maande in Taiwan was, het ek gedink Halloween is ‘n dag uitgedink uitsluitlik vir kinders. “Trick or treat. Smell my feet. Give me something good to eat,” word dan ook regdeur Oktobermaand in al wat ‘n Engelse les is, geleer. ‘n Mens sou seker kon wees dat die grootmense wat sulke rympies in jong, buigbare breine moet inprent, liederlik gatvol sou raak vir Halloween.

IMG_7626

Maar moet dit nie vir ‘n oomblik glo nie. Die grootmense van veral Noord-Amerika is steeds baie ernstig oor hierdie dag van rillers en raaisels. En elke keer word ek ingesleep by die vermaak en vervoering van die grootste makietie van die jaar.

Dis natuurlik ‘n gulde geleentheid vir diewitdraak om haar tande te wys (of soos verlede jaar, ‘n oog of sewe), en vir my om pop te speel met die Skatlam.

Soos ek gister genoem het, het ek en diewitdraak hierdie jaar besluit om vir inspirasie een van haar vele oE na binne te wend om uit te vind watse monsters en gediertes daar binne skuil. My plan was om hulle na buite te lok met die hoop dat aanraking met die atmosfeer as ‘n tipe rehabilitasie sou dien. Terapie vir die tormented.

Diewitdraak het toe haar bek oopgerek, en ek het my kop ingesteek en met die oog by haar keelgat af geloer. Wat ek daar gevind het, was skokkend. Honderde glinsterende ogies het na my teruggestaar vanuit die donker dieptes. Sommige woedend en dreigend, ander net hartseer en hopeloos.

Tot nou toe was ek salig onbewus dat daar ‘n hele skare duiwels in diewitdraak se stekelrige ingewande wemel. Effens verbouereerd en ‘n bietjie bang dat een van hulle dalk sal opspring en my kop van my lyf af ruk, het ek toe maar probeer geselsies maak.

IMG_7609Van wat ek kon aflei, leef sommige van hulle al vir etlike dekades daar, en elke dag kom ‘n paar nuwelinge by. Hulle leef van die gemors en afval wat by diewitdraak se tong afrol wanneer sy skel, of van die breinkrummels wanneer sy lelike dinge dink of sien of hoor. Omdat hulle woordeskat nie vreeslik goed is nie, word alle nuutgebore kinders vernoem na die eerste kos wat hulle eet. Daar is glo ‘n hele klomp genaamd Luiheid, Begeerte, Vraatsug en Leuens, en selfs ‘n hele gesin wat heet Moordgedagtes. Almal wat diewitdraak ken, sal nie verbaas wees om te hoor dat die duiwels wat leef van spatsels ongeduld, blykbaar die vetste van die lot is nie.

Ek het ‘n rukkie vir die monsters staan en luister en besef dat ek onmoontlik almal van hulle op een slag kan uitnooi na buite - die hel sal behoorlik los wees. Ek sou ook mooi moet dink oor wie ek kies, want ek is natuurlik aangewys as oppasser. Die Moordgedagtes-familie was dus heeltemal uit - ek is nie lus vir bloed op my hande nie, selfs nie met Halloween nie.

IMG_7631

Iewers agter in die hoek gewaar ek toe ‘n klein dogtertjie met ‘n fraai rooi rokkie, wat heel mistroostig en onskuldig lyk. “Wat is jou naam?” vra ek. “My naam is Dissie tannie,” antwoord sy in die oulikste ou stemmetjie wat ek nog ooit gehoor het. “Nou toe Dissie, kom jy saam met my.”

Dit draai toe uit dat Dissie kort is vir Diskriminasie. En die onskuldige ou dogtertjie is toe glad nie so skadeloos soos wat sy gelyk het nie. Ek moes heel aand keer of sy het links en regs kele en ledemate in waansinnige woedebuie met daardie rooi mes van haar afgesny.

Gelukkig kon ek vroeg die volgende oggend, na ‘n lang gespook, regkry om vir Dissie weer terug te prop in die gat waaruit ek haar laat klim het. Die laaste woorde wat ek haar hoor skree het, was: “Wag maar, ek kry genoeg kos hier onder van alles wat diewitdraak maar moet sluk. Een van die dae is ek groot en sterk genoeg om self hier uit te klim. En daar is baie van my soort daar buite. Wanneer laas het jy by die keelgat van ‘n moffie, of ‘n vetgat, of ‘n houtkop, of ‘n kortgat afgekyk? Teen hierdie mure sal ons nog uitgedryf word!”

IMG_7599

Word daar soms teen jou gediskrimineer? Waaroor? En hoe hanteer jy dit?

 

EK HOU JOU DOP

 

hhhhhhhhhhhaaaaaaaaaaallllllllllllloooooooooowwwwwwwweeeeeeeeeennnnnnnnnnn.

Die spoke en demone is alweer op loop. Verlede jaar wou diewitdraak seker maak sy’t ‘n oog op elke een van hulle sodat sy vir my, idiwidi, kan beskerm tydens die gevaarlike tyd van halloween. Net om te besef dat ‘n mens eintlik ‘n oog nodig het wat binnetoe kyk as jy die gevaarlikste spoke en demone wil vang.  Wat sal sy hierdie jaar maak?

“Loer” mOre weer in om uit te vind…