Kersfees
My ma se huis is vol blinkgoed, snoepgoed en kinders wat lankal nie meer kinders is nie. Soos volgeveerde arendskuikens wat hulleself weer onder ma se vlerk en pa se wakende oog sitmaak, is ons al vier weer tuis - snawels wyd en kele oop vir gemaklike fyngeskeurde stukkies ouersorg.
My pa se boekrak word omgekrap en ma se krale-laai omgedolwe. Ons baklei weer soos ‘n dekade of twee gelede oor die TV remote. Daar is blikke vol koekies en kaste vol van ons gunsteling kosse - spesiaal vir die vier verlore kinders wat hulle pad weer teruggevind na die nes. Beloftes om vergete bokse studenteboeke en ou huisdans rokke uit te sorteer word op die eerste dag al gemaak. Hierdie jaar moet julle vat wat julle nog wil hE anders gooi ek alles uit, hoor ons drie keer.
Vir die eerste keer vandat my voete net meer as drie weke gelede weer grondgevat het in Suid-Afrika, het ek kans om te dink aan wat my getref het. Ons land is hard op my gestel. Elke dag word ek geslaan met soveel indrukke en nog ‘n groter variasie emosies. Ek raak verbouereerd as ek dink ek moet dit alles probeer neerpen. Ek voel soos ‘n duif wat na ‘n huis toe aanvlieg en koer oor die wonderlike bekende beeld wat voor hom weerkaats word, en dan topspoed kop eerste in die venster vasvlieg.
Suid-Afrika is ‘n fantastiese plek. My tyd hier is ongelooflik. Maar hoeveel van my ervaring is nie maar ‘n weerkaatsing van wat ek graag wil sien nie? Net nadat ek in die Kaap geland het, het ek geskryf dat ‘n mens onmoontlik met ‘n suur gesig in Stellenbosch kan rondloop. Skaars twee weke later het ‘n beklemmende melankolie oor my toegesak, ten skaam aanskoue van die majestueuse lakmoes gebergtes. Die aanvanklike euforie het begin verlep. Die werklikheid buite my kop is stekelrig.
En tog ploeg my wese onwillekeurig in hierdie aarde in. My wortels stoot sonder die toestemming van bas of blare weer terug in die Afrika grond. Ek sal ‘n terugdraaiplan moet begin bedink. Dis nou amptelik onafwendbaar.
Vir die eerste keer in sewe jaar sal my plek aan my ma se Kerstafel nie leeg wees nie. Onder die Kersboom van strikkies, draad en krale, wag ‘n klomp presente waarvan sommige my naam op het. Al waarvoor ek eintlik hierdie jaar wens, is ‘n plan en ‘n pakkie perspektief. Sodat ek voorbereid is wanneer ek weer stertvere skud en oor die rand van hierdie nes moet tuimel. Want ‘n paar losgeplukte boomwortels sal sonder twyfel soos ‘n vlieErstert aan my enkels wapper.



