Leef wat jy glo

(Hierdie inskrywing het ontstaan as ‘n antwoord op Alleman se kommentaar op my vorige inskrywing.)

So te sê twee derdes van die aarde se landoppervlakte word tans deur diere-boerdery opgeneem. Dit maak ‘n 40% groter bydrae tot aardverwarming as alle vorme van vervoermiddele saam.

As ek nou ‘n dier móés kies om te eet, dan sal dit ook ‘n Karoo skaap wees – hulle lewe ten minste redelik goed voordat hulle geslag word. Ons sou kon sê dis nog natuurlike boerdery. Maar, ongelukkig is die vleis wat ons meestal op ons borde kry nie van diere wat ‘n goeie lewe gehad het nie. Dit kom van batteryplase af waar diere van geboorte af in die put van die hel beland het. Veral hoenderplase is gruwelagtig erg.

Om nie eers te praat van hoe ongesond daardie battery-diere se vleis vir ons is nadat hulle so geneties gemanipuleer en met hormone en antibiotika volgestop is dat hulle skaars enige ooreenkoms met ons romantiese prentjie van oulike plaasdiere het nie.

Ek kan vir almal aanbeveel om Eating Animals van Jonathan Safran Foer te lees. Veral as jy kinders het.

Ek haat dit as mense over the top gaan, en ek self wil nie so ‘n persoon wees nie. Daarom seker dat ek myself nog so min oor hierdie goed uitgespreek het. Maar, dit raak net al hoe duideliker dat dit meer oordrewe is om stil te bly en die leuens te bly glo. Of om te maak asof jy dit kan glo.

Ek dink daar is ‘n tyd en plek vir alles. Selfs om diere te eet. Hel, ek sal vir jóú eet as dit daarop neerkom (verbeel ‘n vliegongeluk op ‘n sneeupiek). Maar, aangesien ek vele ander alternatiewe het (wat smaaklik is, baie goed is vir my lyf en baie minder skade aan die omgewing rig) is die bekende reuk van ‘n braaivuur nie genoeg motivering vir my nie.

Behalwe vir die gewoonte (verslawing?) daaraan, is daar werklik nie een goeie rede waaraan ek kan dink dat ons ‘n vleiskultuur sal aanhits nie. Dis nie gesond vir jou lyf nie (daar is baie beter vorme van proteïne), dis nie goed vir die omgewing nie en dis beslis nie goed vir die dier nie. En as gevolg daarvan maak ons onsself aandadig aan groteske mishandeling en massaslagting van lewende wesens meer weerloos as ons.

Die keerpunt vir my was die dag toe ek myself indink of ek bereid sal wees om aan my troetelhond of -kat te doen wat aan die skaap/bees/hoender gedoen moes word voordat dit op my bord beland het. Nie een van hierdie spesies is minder geneig tot pyn en lyding as ‘n hond nie. Vir een of ander rede het ons logika oor die jare skeef gedraai op hierdie punt.

Die eerste vraag wat ‘n mens seker dan moet vra, is hoe het jou vleis op jou bord beland? Lig jouself in oor die proses. En dan vra jy jouself af of dit stryk met jou oortuiginge. My antwoord hierop was nee.

Ek wil vir niemand sê wat hulle oortuiginge moet wees nie. Maar, ek moedig jou aan om minstens die vrae te vra. En dan te begin leef wat jy glo.

What I have to offer

Video

by Eliot Rausch + Phos Pictures

On the 30th of September 2011, in front of a sell-out theatre at the BFI in London, Charlie Kaufman delivered the final lecture in BAFTA’s 2011 Screenwriters’ Lecture Series.

Wat ek het om te bied is ek. Ek is genoeg. Jy is genoeg. Saam kan ons dit beter maak.

My name is idiwidi, and I’m a recovering carnivore

As oogklappe afval, is dit vrek moeilik om weer vas te gom.

Ek is al vir so te sê ‘n jaar en ‘n half ‘n recovering carnivore. Hoekom? Want al die spoeg wat my kliere kan produseer sal nooit weer die oogklappe kan laat plak nie.

Hoewel ek baie dae nog hoop om uit te vind dat die fanatici eintlik net oordryf, en dat ons maar kan voortgaan om vleis te vreet en vis te vang sonder dat die aarde daardeur vernietig word of enigiets vir my aandete moes ly, weet ek eintlik dat hierdie hoop beskaam. En dan is ek skaam omdat ek nog so min dóén. Of nie doen nie.

Dis ‘n proses wat tyd neem. Dit is ‘n tawwe taak om myself van diere produkte te speen. Ons samelewing maak dit ook nie juis maklik om ‘n vegetariër te wees nie. As ek weer moet kies tussen ‘n Griekse slaai of butternut lasagna by ‘n fancy restaurant (as ek gelukkig is, kry ek sampioen risotto) eet ek eerder die servet.

Maar oor die algemeen is kos nog die makliker deel van die proses vir my. Hoewel ek dit nog nie regkry om heeltemal vegan te wees nie, was ek in elk geval nog nooit juis ‘n skaaptjop en worsrol meisie nie. ‘n Mens kook tog ook baie meer interessant en kreatief as jy ‘n vars groente-muse na die kombuis toe lok, en dit pas my goed.

My volgende uitdaging is leerprodukte. Laat ek eerlik wees: Daar is vir my niks so lekker soos ‘n ou lamsvelletjie teen my vel nie. En seker niks so mooi soos ‘n goedgemaakte leer handsak nie. Maar, die oogklappe wil net nie sit nie. 

Ek is mal oor leer. Maar my liefde daarvoor is nie so sterk soos my wens om ‘n lewe van deernis en verantwoordelikheid te leef nie.  So, ek is so te sê bereid om die heerlike deurleefde leersitplek van hierdie gemaksone vaarwel te roep. Een keuse op ‘n slag.

(Lees hierdie artikel as dit jou interesseer: http://www.huffingtonpost.com/bruce-friedrich/leather-bad-for-the-envir_b_1696183.html)

Image

Muf is ook mooi

Skryf tog net iets om hierdie gekerm stil te kry. Vertel ‘n storie om die verdompte gat vol te stop en om die klok se hol getik te verdoof. Wat sou ek sê as ek ‘n woordeier móés lê?

Ek sou ‘n wêreld fabriseer wat geen verband hou met die een waaraan ek my daagliks blootstel nie. Ek sou al die reëls breek en elke verwagting teleurstel of oortref, en nie omgee watter een van die twee dit is nie. Ek sou nie aktualiteite gebruik as inspirasie nie. Ek sou nie die geeste oproep van denkers en avonturiste wat stories gelééf het nie.

In plaas daarvan om die heildronk oor te vertel, sou ek letterprentjies teken met die vergete botteldoppies van die partytjie. Die fokus sal op die rok wees wat verworpe oor die stoel bly hang het, en nie die een wat later die aand gevaarlik van die skouer bly geglip het nie. Ek sou die storielyn volg van die rookwalm wat in die kamer bly rondhang het, en nie die gespreksgenoot wat uiteindelik die sigaret dronk en driftig teen sy opponent se hand sou dooddruk nie.

Aksie is overrated. Ek verlustig my eerder in die opwinding van ‘n sneeulandskap. Ek kou my naels vir die spanning van ‘n enkele asemteug. Die besettoon is so goed soos enige simfonie. Muf is ook mooi.

Hoe wéés ‘n mens net op papier? Hoe vertaal jy die wind? Hoe weerkaats jy lig sonder om dit in stukkies te breek? Kan stilte in ‘n bottel groei? Is die naam vir hierdie behoefte luiheid?