Trippe Trappe Tone

Seg die Skatlief toe vir my: “Daar is altyd iemand met vrotter voete”.

Vandag was ‘n lui Sondag. Lui genoeg om inderdaad sondig te wees. Ek het bly lê totdat ek dors geword het, en nadat die woestyn geles is, het ek lê en lees (Johann de Lange vandag) totdat ek honger geword het. Toe het ek die Skatlief weggestuur om te gaan kos koop en nog ‘n bietjie gelê. Heerlik dekadent!

Op die stoeptrappie het ons later in die lomerige wintersonnetjie sit en brood eet (waarvoor iemand dou voor dag al moes begin deegknie en vuurstook – Oude Bank Bakkerij doen die nog op die outentieke flukse manier!) en toe koerant gelees. Of eerder, die Skatlief het sit en voorlees terwyl ek met my tone speel.

My verhouding met my voete, is redelik ambivalent. Stel dit so, ek sou sukkel om ‘n agentskap te vind wat my as voetmodel sou inneem. Daarteenoor dink ek dat vele wetenskaplikes waarskynlik sal vuisslaan vir die geleentheid om my trappers in formaldehyde bottels weg te neem nadat ek die emmer finaal geskop het. Want sien, ek is die ideale plekhouer in die evolusie van Homo sapiens.

Met die eerste oogopslag sal jy nie sommer sien iets is nie pluis nie. Gewone voete, indien nie opvallend aantreklik nie. Totdat jou aandag gevestig word op die kleintoontjies wat eintlik heel duidelik te ver van die res van die tone stelling inneem. Asof hulle ongesiens teen die voet se buiterand probeer terugkruip na die enkel toe. Verleë bewus daarvan dat hulle nie meer nuttig is vir die doeleindes van ‘n moderne bestaan nie.

En daarmee saam dan die parmantigheid van die kleintoontjies se bure, daardie dikveselige lummels wat probeer kompeteer met die rangorde van die middelste tone wat op húlle beurt kiertsregop en elegant getuig van die goeie inbors wat so moedswillig deur die buitenste twee stelle worsies bederf word.

Inderdaad, was dit nie vir die weghol-kleintoontjies en die orige tweedelaaste kinders nie, sou my voete selfs regaal kon lyk. En ewe koninklik-sensitief, ongelukkig. Want behalwe vir die ongelukkige evolusionêre bloutjie wat ek geloop het met die gebreklike agterosse, is my voete ook die slagoffers van ander skete.

Soos baie vroue van my portuur, is my voete misvorm deur ballet. Vir die voorreg om klein dogtertjie as ‘n bytjie of blommetjie of feëtjie of vlinder in ‘n tutu en vlerkies op ‘n verhoog rond te trippel, verduur ons nou die waggel van ‘n eend in ons volwasse treë. En waar het jy nou al ‘n eend ‘n halfmarathon sien hardloop?

Daarom, ten spyte van pleisters en vaseline en sagte kouse, brandspiritus en allerhande ander vreemde rate, is my voete gedurig oortrek met blase. Soos nickerballs vorm hulle laag op laag en kleur op kleur soos die kussingtjie water eers wit, dan rooi en later blou, pers en swart word. Ten minste is dit beter as afvaltoonnaels wat gelukkig lanklaas gebeur het.

O wee, en dan is daar winterstone. Maar, in die ekstreme mate waarin ek daaraan ly, is dit eerder ‘n vorm van gangrene. Selfs die mooi tone herinner later aan ET se vingers, pers en geswole en weemoedig ontuis in enige skoen.

En dis juis vir hierdie kondisie dat ek my toontjies so sit en pamperlang het in die wintersonnetjie vanoggend. Hulle is dalk nie mooi nie, maar hulle vermag en verduur so baie. Oor berge en dale word hulle uitgemergel, en in puntskoene en hoë hakke word hulle geprop en maak staan of loop en hardloop vir ure aaneen. Ek het werklik niks om oor te kla nie. My voete is ‘n bate!

En asof die Skatlief my innerlike monoloog kon aanvoel, druk hy ‘n advertensie van die koerantbylaag in my gesig: Die ‘n gereklameerde roompie beloof om kuur te wees vir die sieklikste ry misgewasse vir tone wat ek nog gesien het. Waar die toon se nael begin en die verrottende skubvelle eindig, is onduidelik. As daar ooit ‘n nael oor is. Of as die horing wat seker eens ‘n nael was nie reeds van die hele toon besit geneem het nie. Sekere van die kleure wat die tone op die foto aanneem, kom beslis nie in enige reënboog voor nie. En ‘n mens kan selfs nie meer seker wees dat dié wanstaltige dismorfe hompe selfs nog tone genoem kan word nie!

Foeitog. “Daar is altyd iemand met vrotter voete”.

Advertisements

Los 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s