Verlang na Vietnam

Ek is verlief op die voorspelbaarheid van jou chaos,

Ek is geanker aan die stad se speke:

Kom haal my vandag,

Kom kou my fyn en spoeg my uit in ‘n straatkafee,

Met ‘n bier in die hand

En tevredenheid taai

Soos ‘n lang dag se stof teen my wang.

 

 

 

Bonsai Soldate

Mag hulle my tog asseblief nooit hier vind nie.
Mag hulle my nie aan my enkels hier uitsleep met hulle opinies en oordele nie.
Hulle sal my tafel omskop met hulle konformistiese stewels en my dak aan die brand steek met hulle vrees.
Hulle sal my geordende notas in die lug op gooi, opsoek na my geheim. Deur die brandende vertrek sal dit rondfladder soos vlermuise in die skemerlig.
Maar hulle sal dit nie daar kry nie.
Dis my geheim.
Hulle is nie geregtig op my gedagtes nie.
Die toegedraaide voordrag, netjies verbind met linte en sagte papier, is genoeg.
Dis tog mos sag op die oor. Waardig tot inskiklike knikke.
Hoekom sal hulle dan dieper wil krap?
My stiltes bedreig niemand nie. Pla dan ook nie vir my nie.
My knapsak is reeds gepak. Dit staan immer reg.
Ek sal so stil verdwyn soos wat ek gekom het.
Ek sal alles van my net so los en nie terugkyk nie.
Ek sal ‘n nuwe skuiling soek.
Waar my wortels in vrede kan diep en my takke hulle eie rigting kan bepaal.
Ek is eerder ‘n boom alleen, as gekerker in ‘n woud van bonsais.

Murmeling van ekstase

Die choreografie van verliefdheid: ‘n swerm dansende, duikende, dartelende, dol vlerke – ongeïnhibeerd, universeel en kollektief waansinnig.

Aaaah, hulle moes Elbow se uitstekende musikale weergawe van hierdie onbeteuelde natuur-fenomeen (die liefde én die voëls) as klankbaan gebruik het vir die video! Die musiek vang die wisselvallige frenesie so goed vas. ‘n Stille ekstase. Vloeibare spatsels emosie soos ‘n lewende potloodskets. Verruklike tevredenheid.

Indien moontlik, skakel die klank van die eerste video af en kyk daarna terwyl jy na die tweede een luister. Jy sal nie spyt wees nie.

 

Visuele Bach

Ek droom soms van musiek. Maar die klanke is dan vertaal in beelde, asof daar ‘n graad van stilheid is anderkant fluister waar geluide eerder in visuele vorme begin dans as om die res van my lyf wakker te lawaai. My prentjies is meer kleurvol en abstrak, maar waarskynlik nie so akkuraat soos hierdie uitbeelding van Bach nie.

Ek dink dis frieken niftie!

Nog nie dood nie


Ek wil julle verseker – hierdie blog is nog nie ‘n Shakespeariaanse eindbedryf waarin die verworpe geliefde ‘n ewigheid vat om die laaste asem uit te blaas nie. Daar is nog lewe in hierdie vingers en die dolk is reeds verlê! Gee net bietjie kans.