Leef wat jy glo

(Hierdie inskrywing het ontstaan as ‘n antwoord op Alleman se kommentaar op my vorige inskrywing.)

So te sê twee derdes van die aarde se landoppervlakte word tans deur diere-boerdery opgeneem. Dit maak ‘n 40% groter bydrae tot aardverwarming as alle vorme van vervoermiddele saam.

As ek nou ‘n dier móés kies om te eet, dan sal dit ook ‘n Karoo skaap wees – hulle lewe ten minste redelik goed voordat hulle geslag word. Ons sou kon sê dis nog natuurlike boerdery. Maar, ongelukkig is die vleis wat ons meestal op ons borde kry nie van diere wat ‘n goeie lewe gehad het nie. Dit kom van batteryplase af waar diere van geboorte af in die put van die hel beland het. Veral hoenderplase is gruwelagtig erg.

Om nie eers te praat van hoe ongesond daardie battery-diere se vleis vir ons is nadat hulle so geneties gemanipuleer en met hormone en antibiotika volgestop is dat hulle skaars enige ooreenkoms met ons romantiese prentjie van oulike plaasdiere het nie.

Ek kan vir almal aanbeveel om Eating Animals van Jonathan Safran Foer te lees. Veral as jy kinders het.

Ek haat dit as mense over the top gaan, en ek self wil nie so ‘n persoon wees nie. Daarom seker dat ek myself nog so min oor hierdie goed uitgespreek het. Maar, dit raak net al hoe duideliker dat dit meer oordrewe is om stil te bly en die leuens te bly glo. Of om te maak asof jy dit kan glo.

Ek dink daar is ‘n tyd en plek vir alles. Selfs om diere te eet. Hel, ek sal vir jóú eet as dit daarop neerkom (verbeel ‘n vliegongeluk op ‘n sneeupiek). Maar, aangesien ek vele ander alternatiewe het (wat smaaklik is, baie goed is vir my lyf en baie minder skade aan die omgewing rig) is die bekende reuk van ‘n braaivuur nie genoeg motivering vir my nie.

Behalwe vir die gewoonte (verslawing?) daaraan, is daar werklik nie een goeie rede waaraan ek kan dink dat ons ‘n vleiskultuur sal aanhits nie. Dis nie gesond vir jou lyf nie (daar is baie beter vorme van proteïne), dis nie goed vir die omgewing nie en dis beslis nie goed vir die dier nie. En as gevolg daarvan maak ons onsself aandadig aan groteske mishandeling en massaslagting van lewende wesens meer weerloos as ons.

Die keerpunt vir my was die dag toe ek myself indink of ek bereid sal wees om aan my troetelhond of -kat te doen wat aan die skaap/bees/hoender gedoen moes word voordat dit op my bord beland het. Nie een van hierdie spesies is minder geneig tot pyn en lyding as ‘n hond nie. Vir een of ander rede het ons logika oor die jare skeef gedraai op hierdie punt.

Die eerste vraag wat ‘n mens seker dan moet vra, is hoe het jou vleis op jou bord beland? Lig jouself in oor die proses. En dan vra jy jouself af of dit stryk met jou oortuiginge. My antwoord hierop was nee.

Ek wil vir niemand sê wat hulle oortuiginge moet wees nie. Maar, ek moedig jou aan om minstens die vrae te vra. En dan te begin leef wat jy glo.

Advertisements