TOILETHUMOR

•15 April 2008 • 33 Kommentaar

 

Almal weet dat die Sjinese maar ‘n vreemde sin vir humor het. Dikwels kinderlik en tergend met ‘n goeie dosis uitskeidingsfiksasie. En dis presies hierdie fiksasie waarop die gewilde toiletrestaurantkettinggroep in Taiwan staatmaak vir die sakke vol geld wat hulle verdien. (Ek dink toiletrestaurantkettinggroep is die langste woord wat nog op hierdie blog gebruik is.)

IMG_3546

Soos julle kan sien, is die tema van hierdie restaurant Toilette en Badkamers. Selfs die gordyne is die Psycho-geinspireerde plastiekweergawes en jy kan kies of jy meer gemaklik bo-op of onder die toiletdeksel sal sit.

IMG_3549

Die kos kom natuurlik in toiletbakke (hoe dan anders) en jy moet maar self besluit of jou maag sterk genoeg is om die hoenderkerrie te bestel.

IMG_3560

Die seekossopbredie is self ook hard op die verbeelding. En so ook die roomys wat in die tradisionele hurktoilet wat meestal in AsiE voorkom, bedien word.

IMG_3563 

Bo alle verwagtinge was die kos eintlik heel aangenaam. Totdat ek vir die eerste keer ‘n draai by die regte badkamer moes maak. Dit was vuil en stink en grillerig. En dit het nie lank geneem voordat my brein ‘n verband getrek het tussen daardie onaangename ervaring en die bak kos voor my nie.

Het ek nie al voorheen iets geskryf oor ontevrede toilette nie?

AVONTURE IN KONG HONG

•11 April 2008 • 5 Kommentaar

 

IMG_3262

Waar was Diewitdraak onlangs? Sy’t in die toekoms gaan kuier. Die plan was eintlik om Hong Kong toe te gaan, maar toe sy uiteindelik by haar hotelkamer aankom en die gordyn ooptrek, besef sy dat sy duidelik op die verkeerde vliegtuig geklim het. En sowaar, toe sy na die opgefrommelde vertrekkaart in haar handsak kyk, sien sy dat haar reisagent ‘n groot fout gemaak het. Die bestemming wys Kong Hong in plaas van Hong Kong en die arriveerdatum was nie 04/2008 nie, maar 08/4002.

Ai. En sy het regtig nie goed gepak vir so ‘n reis nie. Sy het haar tetristaalversorger by die huis vergeet. So, vir die hele week lank was dit maar moeilik om direk in kleurkode idees te kommunikeer. En dit verg nogal baie inspanning om die ideeblokkies rond te skuif net met gewone breinkrag sonder die hulp van haar getroue oranje breinbrug.

  Woorde is natuurlik heeltemal oorbodig in Kong Hong. Taal is ‘n argaiese konsep in die jaar 4002 en word gesien as ‘n baie onintelligente kommunikasiemiddel. Die uitruil van betekenis is nie eers meer die primere doelwit nie – dit is reeds in die derde millennium uitgefaseer. Deesdae gebeur dit outomaties. Daar word nie tyd gemors om inligting rond te skuif nie, want dis oralom altyd onmiddellik beskikbaar. Dis eerder idees waarmee gewoeker word. Elke gedagte is ‘n skepping wat iewers optimaal moet inpas sodat dit deel kan word van ‘n groter, beter idee. Daarvoor dan die breinblokkies.

IMG_3261

 

 

Dit werk goed, want die blokkies word sommer in die vorm van materiEle kommoditeite verwerk en gelyktydig soos skeepvraghouers deur die wEreld rondbeweeg. Want, hoewel lopende, pratende mense oor die algemeen redelik skaars is in 4002 (die blikbreine regeer nou die aarde), is daar steeds ‘n paar miljoen van hulle wat net nie kon ophou konsumeer nie.

 

 

IMG_3331

 

 

Diewitdraak het min van hulle teEgekom gedurende haar kuier in Kong Hong, maarsy het wel ‘n vinnige besoek afgelE by ‘n plaaslike sentrum waar kriminele gevangenes museumdiens doen deur oudtydse Gucci en Dior handsakke uit te stal.

 

 

 

IMG_3374

 

 

 

Die menslike gesondheidsorgsentrum maak ook van gevangenes gebruik om in bemarkingsveldtogte as voorbeelde van suksesvolle gesondheidsmaatstawwe te posseer. Hierdie man is blykbaar sommer baie groot en gesond.

 

 

 

Die algemene welstand en gesondheid van die mensdom word baie belangrik geag in Kong Hong, want hoewel hulle as onderontwikkelde, agteraf wesens beskou word, is mense steeds noodsaaklik in die produksie van emosies. En natuurlik is emosies alreeds in die jaar 2099 as die mees koste-effektiewe energiebron ingespan, nadat hidro- en sonkrag finaal uitgewerk is.

IMG_3307

Kyk, selfs al is dit reeds die jaar 4002, kan ‘n mens steeds hier en daar spelfoute sien – Op die treinstasie is Kong Hong as Hong Kong aangedui. Sekere dinge verander ook maar bitter stadig.

IMG_3283

Voordat diewitdraak uiteindelik weer op die vliegtuig geklim het om na Hong Kong te vertrek, het sy ‘n oulike versoek van ‘n ene Pilaarman ontvang. Dit word hier bo in tetrisformaat aangedui. As julle blokkietaal kan praat, moet julle maar self uitwerk waaroor dit gaan.

Was enigeen van julle al in Kong Hong of in een van die ander toekomsprovinsies? Watter besienswaardighede sal julle vir diewitdraak kan aanbeveel vir haar volgende besoek?

FLOPS EN VERSKONINGS

•21 Maart 2008 • 11 Kommentaar

 

Nog ‘n verskoning vir die stoflaag wat deesdae op hierdie blog vorm, is dat diewitdraak amper meer in die lug as op die land is. Sy vlieg rond soos ‘n posduif wie se eier langs ‘n magneet uitgebroei het.

As ek so rondbeweeg vir besigheid neem ek omtrent glad nie foto’s nie. Ek probeer seker te hard om aan te pas by die veranderende temperature of sukkel te veel om somme te maak tussen die geldeenhede. En buitendien sien ek in elk geval dikwels nie veel meer as die binnekant van ‘n kantoor nie. Maar, in Vietnam was dinge ‘n bietjie rustiger en gelukkig was dit ook lekker warm en als is so goedkoop dat ek nie te veel gebodder het met die maal en deel nie. My kamera is dus vir ‘n slag afgestof.

Hier is ‘n paar flops wat eintlik heel funky is.

IMG_2618 IMG_2816  

IMG_2750  

IMG_2753  

IMG_2755

IMG_2658

GeseEnde Paasnaweek!

PIEP!

•19 Maart 2008 • 13 Kommentaar

 

Piep! Piiieep! Piiiieeeep!

Uiteindelik weer ‘n geluid van diewitdraak. Sy was stil die afgelope tyd, daarom dan ook idiwidi se stilswye. Ek is immers maar net ‘n spreekbuis vir haar onbeholpenheid. En onbeholpenheid is maar net nog ‘n onbeholpe woord om te beskryf hoe beskimmeld en bedremmeld diewitdraak deesdae teenoor haarself staan.

Hoekom dan? Ai, dis soos om te vra hoekom ‘n verhouding moes eindig – daar is soveel regte antwoorde wat nie een die waarheid heeltemal kan beetkry nie. Miskien is die mees akkurate verduideliking van diewitdraak se stomheid dat sy die afgelope tyd oopbek in verwondering gestaan het teenoor die wendings en draaie wat sonder voorbode of verduideliking skynbaar oornag in ‘n mens se kop en hart kan plaasvind.

Vatplek aan talle idees en sekerhede het begin glibberig raak. En die grootste ontgogeling gebeur wanneer daar in plaas van ‘n paniekerige vakuum eerder ‘n gevoel van kalm vervulling ontstaan in die afwesigheid van hierdie sekerhede.

Vir sommige dinge is daar nie (ant)woorde nie. Al wat ‘n mens kan doen, is kyk en voel en ruik en proe en hoor hoe intens ‘n enkele oomblik kan wees. In stilte bewus wees – ervaar en laat vaar. Oorgee. Ontvang.

Diewitdraak moes talle kere in die afgelope maande haar eie kop afkap. Elke keer groei daar ‘n nuwe een uit wat op die oog af lyk net soos die vorige een. Maar, as sy haar mond sou oopmaak, sou jy sien dat dit ‘n hele nuwe stel tande is wat in haar bek glinster. Sy byt deesdae anders op haar kos.

IMG_2913

Letterlik en figuurlik. Diewitdraak het gister ‘n verstandtand laat trek. Jammer, ek weet hierdie foto’s is ‘n bietjie grillerig.

NS – Wag-’n-bietjie, ek weet ek het (baie lank gelede) nog ‘n lysie van tien dinge wat my afpieeep vir jou belowe. Ek kan myself net nie sover kry om so ‘n lysie te maak nie. As die swartgalligheid my eendag weer beetkry, sal ek my blogbraak aan jou opdra.

DIE ERFENIS VAN VERLIES

•14 February 2008 • 16 Kommentaar

 

Nou goed. Een twee drie blok myself – ek is blykbaar nou aan. Dis soos ek die tag-speletjie sien: Jy bad nog so lekker in jou eie vlakwater-gedagtes en roer dit so nou en dan om in ‘n bloginskrywing, en dan voel jy skielik ‘n glibberigheid teen jou been verbyglip. Iets anders wil ook leef in hierdie poel, besef jy. Eers gril jy, en dan raak jy nuuskierig. ‘n Bietjie kielie is seker nie sleg nie, maar te veel glibberigheid is ook nie juis gemaklik nie.

IMG_2199

Nou ja, hier gaan ons. Wag-’n-bietjie het my getag om te sę wat als in my poel piepie, maar sy moet eers gou ‘n-bietjie-wag. Riviersonderend en Sterfling het my getag om na bladsy 123 van die naaste boek aan my te blaai en dan die sesde, sewende en agtste sinne op daardie bladsy hier aan te haal.

Ek het gehoop dit sou ‘n inspirerende drie sinne wees, veral omdat dit ook drie lukrake ragfyn aanmekaargeweefde sinne uit hierdie boek was wat my oortuig het om dit aan te skaf. Bladsy 123 is nou ongelukkig nie heeltemal so ophitsig nie. Ek het toe oorweeg om te kroek en ‘n ander boek te gryp. Maar omdat meeste van my boeke reeds in bokse toegeplak is vir die groot trek, is my opsies redelik beperk. Bladsy 123 van my dagboek het gelukkig nog geen afsprake nie, en my paspoort het net sestien bladsye (ek het getel). So, hier is dit dan. Uit Kiran Desai se Man Booker Prize-boek, The Inheritance of Loss:

“While Saeed was collecting shoes, Biju had been cultivating self-pity. Looking at the dead insect in the sack of basmati that had come alle the way from Dehra Dun, he almost wept in sorrow and marvel at its journey, which was tenderness for his own journey. In India almost nobody would be able to afford this rice, and you had to travel around the world to be able to eat such things where they were cheap enough that you could gobble them down without being rich; and when you got home to the place where they grew, you couldn’t afford them anymore.”

Haai, toe eintlik drie baie suksesvolle sinne met tweede oorsig. ‘n Gesonde porsie hartseer ironie daarin vervat. Hoop julle’t dit ook geniet.

Ek tag vir jou en jou en… jou. (Besluit maar self of jy nou net ‘n glibberige poelgedoente aan jou virtuele been voel vat het.)

So, dink julle ek is mal om my boeke 12500km ver te karwei, of dink julle ook boeke is soos oumense – miskien ‘n pyn om op reis te vat, maar sulke wonderlike rusbankvriende as jy eers daar is?

 

SSSSWEM

•8 February 2008 • 6 Kommentaar

IMG_2002b

Ssswem ssssssaam met my,

ssswem sssssaam -

verssssssssigtig nou, verssssssig-tig.

Ek ssssal eersss ssssuutjies wegsssak

in onsss twee-sssy ssssspieEl,

ietssss op die bodem

moet ek gou gaan bEre.

Ssssal jy assseblief

net sssso nou en dan

en wan en an

al te versssssssssig-tig

‘n sssspaan laat ssssak

dat ek mag onthou

wat isss waar en wat isss waansssin.

Versssssigtig nou, versssssig-tig

want sssssssssink of ssssplinter

mag hierdie sssuiwer sssspieEl

verssssseker

nie.

PRISMAS EN PADDADERMS

•2 February 2008 • 14 Kommentaar

 

IMG_2047

Nou goed dan. Ek moet weer leer blog. Wat skryf ‘n mens nou weer?

Eers moet ek seker bepaal wat dit is wat ek nou eintlik dink sodat ek dit in woorde kan omskakel. So wat dink ek? Goeie vraag. Om by die antwoord uit te kom, moet ek eers seker ‘n ander vraag uit die weg ruim – is dit belangrik vir my om nou te dink?

Soos daar seker uit my afwesigheid en sporadiese wroegings afgelei kon word, bevind ek myself tans in ‘n taamlike turbulente tyd. In my kerskous het ek toe wel die pakkie perspektief gekry waarvoor ek gewens het. (‘n Mens moet pasop waarvoor jy vra, die gevaar bestaan altyd dat jy dit wel gaan kry.)

Toe ek my hand uit die rooi en wit kous trek, was daar ‘n prisma in my palm. Ek het dit teen die lig opgehou en probeer vasstel vanuit watter rigting ‘n straal wit lig in die helderste reEnboog verdeel kan word. Ek het besef die rigting is suid.

Die implikasies hiervan is verrykend. Dit beteken so baie dinge. ‘n Vervaldatum het uiteindelik aanbreek wat nie noodwendig so duidelik op die verpakking aangebring is nie. En hierdie is nie sake waarvoor die eerste impuls netjies verpakte, logies gestruktureerde gedagtes en redenasies is nie. Nee, dis rou, onbeheerste, ongrasieuse emosie wat in alle rigtings uitpeul soos die derms van ‘n gierige brulpadda wat platgery is nadat hy in ‘n motor se kopligte gaan insekte vang het.

So, die vraag bly staan: Is dit belangrik vir my om nou te dink? Moet ek my skalpel en vergrootglas nader bring en die padda se binnegoed verder dissekteer? Of staan ek dan net die gevaar om self ook omgery te word.

Wel, dit wat ek nou hier tik, is seker ‘n bewys dat ek alreeds begin dissekteer en analiseer het. Ek kan dit seker nie help nie. Tussen al die ghwel en slym en gebreekte beentjies sal ek aanhou soek. Totdat ek in die diepste ingewande van hierdie gemors die blink, kantige prisma vind wat die gulsige padda eens vir ‘n vuurvlieg aangesien het.  Ek sal dit dan ophou na die lig en my weer verwonder oor die fantastiese kleure wat ‘n koplig daardeur kan kaats. Net voordat dit my tref…

 

IMG_2048

 

 

(Wat is beter – hierdie groot lettertipe

of die gewone kleintjietjietjietjie?)

 

Pendulum

•30 Januarie 2008 • 12 Kommentaar

 

IMG_1958

 

Ek voel hoe die pendulum momentum verloor.

Dit raak nou omdraaityd.

My hart se punt rem suid.

My hart se punt rem suid.

 

In die enkele oomblikke van stilstand voor die rigting weer verander,

erken ek in die gespanne verposing die weerstand,

aarselende afwagting,

vir dit wat onkeerbaar kom.

 

Seldsame stagnasie – ‘n stille voorbode -  

word die teruggehoue perdekrag vir verandering.

En dan skielik, oor die rand van tyd se glyplank –

beweging hersien, ‘n wending.

 

Eers versigtig dan versnel-

die pendulum meteens weer in volle swang.

 

Skynbaar onkeerbaar, vry soos ‘n voEl

wat nie weet van die onsigbare lugstroom

wat binnekort weer teen bors sal stuit nie.

VoEl word golf, gevangene van ‘n ewige reelmatige deining -

nie hier nog daar -

altyd onseker,

‘n vrye gyselaar

altyd aan’t omdraai of wegdraai.

 

Ek voel hoe die pendulum momentum verloor

en die gety pluk-pluk paai. Ek val terug.

My hart se punt rem suid.

My hart se punt rek uit.

 

IMG_1942 

Nou goed dan. Genoeg is genoeg. Van nou af sal ek nie meer so baie wroeg nie. Darem nou en dan ‘n bietjie afwisseling verskaf. Hoop dit gaan nog goed met al die funky virtuele mense hier op die blogosfeer?

 

TRAP!

•8 Januarie 2008 • 21 Kommentaar

 

IMG_1747

Dit suig.

Om

op

‘n

hart

te

trap.

Want hoe meer dit snik en hyg en kreun

en smekend onder jou wrede voet steun,

hoe stiller raak die stemme in jou kop.

En hoe dieper krimp jou eie hart

in

sy

sieklike

bros

dop

op.

Dit suig om op ‘n hart te trap.

Dit suig van al die bloed en gwhel,

slurpend onder sool en vel.

Jy’t nooit bedoel om in die stap

jou voet so hard

neer

te

stamp

nie.

Dit moes nooit in soveel stukke breek,

en selfs in poele bloed geweek,

so hartverskeurend aanhou glo

dat daardie wrede, wrede voet van bo

miskien maar net ‘n slaaf

van

swaar

te

krag

is

nie.  

IMG_1748

CUPCAKE KINDERS

•7 Januarie 2008 • 6 Kommentaar

 

IMG_0365b

Kinders van Suid-Afrika. Kinders van my hart. Ons het vir julle cupcakes gebak vir Kersfees. Cupcakes vir Kersfees en ‘n splinternuwe jaar. 

Ek het smarties en ‘n R2 in die deeg gegooi – passop vir tande breek of insluk. Ons het dit gaan aflaai by ‘n sinkdak en die verbaasde tannie het verbouereerd belowe dat sy vir julle tussen die rommel en hopelose dronklappe sal gaan roep. Ek hoop maar julle’t dit gekry.

IMG_1349  IMG_1352  IMG_1353  IMG_1399

Kinders van Suid-Afrika. Hou aan droom.

IMG_0567   IMG_0368

IMG_0930b

IMG_0772    IMG_0792

 IMG_0367  IMG_0934

  IMG_1035  IMG_0779

 IMG_0796  IMG_0584